Hy slaap toe by sy hoenders in hok

Deur Chanté Daries

So vasbeslote was Bheki ­Mat­shenja (30) om sy hoenderboerdery te laat slaag dat hy aanvanklik by sy hoenders in die hok geslaap het.
“Toe ek besef dis my roeping, het ek besluit ek gaan alles in my vermoë doen om die beste daarvan te maak, al moet ek ook in die hokke bly,” sê hy.
Hy maak die deur van een van sy hokke oop en fluister vir die hoenders om stil te bly, soos ’n pa wat sy kinders troos.
Matshenja is deesdae ’n trotse hoenderboer met 1 000 hoenders in sy hokke by Eikenhof, suid van Johannesburg.
Hy sê hy verkoop sowat 200 per week aan straatsmouse.
Hy is een van meer as 3 000 aspirantboere wat sedert 2000 opleiding gekry het by die ­Buhle-boereakademie, ’n nie-winsgewende organisasie wat mense wat voorheenbenadeeldes leer boer.
Sowat 64% van die opgeleide studente is steeds boere, sê McGreggor Ntuli, ’n woordvoerder van Buhle.
“My pa het ’n klein groenteplasie in ons agterplaas gehad.
“Dit en my opleiding by Buhle het my baie geleer van boerdery en ook die liefde daarvoor by my gekweek,” sê Matshenja.
Hy het aanvanklik meubels gemaak, maar toe sy werk verloor.
“Dit was eintlik ’n bedekte ­seën. Nadat ek afgelê is, het ek navorsing gedoen oor boerdery en op die Buhle-boereakademie afgekom,” sê hy.
Hy het in 2010 ’n agt weke lange kursus by die akademie gevolg.
Die Johannesburgse munisipaliteit help sommige van die boere, soos Matshenja, deur grond vir plasies van een hektaar beskikbaar te stel.
Nomsa Lamula (47) het 21 jaar lank by Standard Bank gewerk en was ’n bankbestuurder toe sy haar hoëhakskoene en rokke verruil het vir stewels, oorpakke en harke om ’n groenteboer te word.
“Ek het besef Suid-Afrika het boere nodig. Ons het swart boere nodig.
“Ek wil teruggee aan Suid-Afrika, want ek het grootgeword in ’n familie wat lief is vir boerdery.
“Ek wil teruggaan na my wortels.”
Lamula het in Februarie begin boer nadat sy ’n twee maande lange kursus by die akademie gedoen het.
Sy verskaf reeds groente aan Pick n Pay en baie van die straatverkopers in die gebied.
“My volgende doelwit is om ’n groter plaas van 15 hektaar te kry sodat ek aan nog meer mense kan verskaf,” sê sy laggend met haar hark in die hand.

Rapport – 21 Junie 2015.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s