2 jaar dood in haar huis

Deur Chanté Daries

Bure dog vrou trek weg nadat haar man sterf

Haar kombuis lê onder die stof in die skemerlig, asof die son se strale sukkel om in te kom. Die slaapkamer is deurmekaar. ’n Elvis Presley-plaatomslag lê ingedruk tussen ander goed onderin ’n hangkas vol manshemde en dasse.
Hier het Iola Glenda Cynthia Ditcham (77) haar laaste dae geslyt. Stoksielalleen, nes sy gesterf het.
Die afgelope week was bure geskok toe die polisie haar ontbinde oorskot in die huis by Erasmusweg 11 in Edenvale aan die Oos-Rand ontdek het. Niemand het geweet dat sy hier aangebly het ná haar man se dood aan kanker sowat vyf jaar gelede nie.
Haar oorskot – eintlik maar net ’n geraamte met lang naels en wit hare – is in ’n hoek van ’n kamer gekry. Haar lyk het vermoedelik twee jaar daar gelê.
Op ’n bed in die slaapkamer het haar man, Brian, se werkstoegangskaart dié week nog gelê. Hy was ’n afgetrede vlugingenieur en oral teen die mure hang prente van vliegtuie van MK Airlines, vir wie hy gewerk het. MK bestaan nie meer nie.
Daar is ook foto’s van mense – vermoedelik familielede – maar geen foto van Iola nie.
Die polisie het haar oorskot ontdek nadat ’n buurman die Ekurhuleni-metropolisie na die perseel ontbied het om ’n plakker te verwilder wat hom in ’n houthut in die agterplaas tuisgemaak het.
Die polisie het sedertdien die Ditchams se familie in Australië opgespoor en hulle van haar dood in kennis gestel.
Die familie het nie op Rapport se navrae gereageer nie.
Volgens die webwerf ­Myheritage.com is Brian en Iola in 1963 in die destydse Rhodesië getroud.
Maar vreemd genoeg het Iola volgens dié gegewens in Augustus 2013 selfmoord gepleeg – min of meer wanneer die polisie meen die vrou in die huis gesterf het.
Volgens kapt. Doniah Mothutsane, polisiewoordvoerder, kon hulle nog nie vasstel waaraan Iola dood is nie. “Die tuinier is ondervra, maar hy is nie ’n verdagte in die saak nie. Ons wag vir die resultate van die lykskouing om die oorsaak van die dood te bepaal.”
Die huis is erg verwaarloos. Die gras is dood, die swembad se water het opgedroog en die plante is so bruin soos die sand wat voor die tralies lê – tralies wat ’n geraamte binne gehou het.
Toe Brian nog geleef het, het hy partykeer sy bakkie op die sypaadjie getrek en ysterware agterop uitgestal om te verkoop.
“Die paar keer wat ek met hom gesels het, het hy nooit genoem hy het ’n vrou nie. Ek het haar ook nooit gesien nie,” sê ’n buurman, wat anoniem wil bly.
’n Ander buurman sê hy het gerugte gehoor dat die vrou ’n alkoholis was en dat Brian haar versorg het. Hy het haar egter nooit gesien nie, en glad nie vermoed sy was ná Brian se dood steeds in die huis nie.
“Ons het gedink as daar enige mense was, het hulle getrek. Die huis het bot-toe gestaan,” sê nog ’n buurman.
“Ons was so geskok. Dit wys net weer ons moet oplet na ons bure en hulle beter leer ken,” sê Linda McKenzie, die voorsitter van die Edenvale-gemeenskapspolisiëringsforum.
Maar in die vreemde stilte van Erasmusweg voel dit asof die inwoners nou amper nog banger is om met mekaar te praat.

Rapport – 30 Augustus 2015

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s