Afspraak-moorde:

Deur Chanté Daries

Nog aanklagte dreig ná een skuld beken
Nog aanklagte kan kom teen vyf beskuldigdes in die Krugersdorp-afspraakmoorde nadat een van die beskuldigdes skuld beken en ’n staatsgetuie geword het.
John Barnard (40), wat laaste in hegtenis geneem is in verband met die grusame moorde aan die Wes-Rand, het Woensdag tydens sy vonnisoplegging in die hooggeregshof in Palm Ridge aan die Oos-Rand ’n staatsgetuie geword en skuld beken op 13 aanklagte wat wissel van roof tot moord.
267 jaar tronkstraf het hom in die gesig gestaar weens die 13 aanklagte teen hom.
Barnard is tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis op voorwaarde dat hy teen sy medebeskuldigdes getuig.
Barnard het sigbaar gebeef toe regter Ratha Mokgoatlheng hom gevonnis het.
Die lys van aanklagte sluit in moord, roof met verswarende omstandighede, aanranding, regsverydeling en die versuim om die ligging van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie aan te meld.
Barnard sal later getuig teen Marinda Steyn (50), haar kinders, Le Roux (21) en Marcel (18), Cecilia Steyn (35, geen familieverwantskap nie) en Zak Valentine (31), die man wat volgens die staat sy eie dood versin het.
Die vyf sal na verwagting op 27 Januarie volgende jaar weer in die hof verskyn.
Rapport verneem van ’n ingeligte na aan die ondersoek dat nog aanklagte dan teen die beskuldigdes gebring kan word.
Luidens hofstukke is drie van die slagoffers in die Cosanna-woonstelle in Krugersdorp vermoor voordat hul lyke elders afgelaai is. Volgens die polisie het Marinda en Cecilia daar gewoon.
Die lys van slagoffers van Barnard en sy medebeskuldigdes lees soos ’n riller:
) Die Meyer-moorde: 27 November 2015
Peter (50) en ­Joan (47) Meyer, ’n sakepaartjie in Krugersdorp, is in ’n plas bloed in hul huis in Noordheuwel gevind. Albei is talle kere gesteek. Barnard, wat ­jare lank vir die Meyers gewerk het, is van roof met verswarende omstandighede aangekla. Volgens die staat word Valentine, Marinda, Marcel en Cecilia ook verbind met die moorde.
) Die moord op ­Jarrod Jackson, ­16 Desember 2015
Die 41-jarige Jackson was ’n straatsmous wat naby die Cosanna-woonstelle gewerk het. Marinda, Le Roux, Cecilia en Zak het vriende met Jackson gemaak en hom glo oorreed om saam met Zak na ­Petrus Steyn in die Vrystaat te reis. Volgens die staat is Jackson se verkoolde lyk later in Zak se Mercedes-Benz SLK gevind.
Die plan was dat die polisie moes dink dit is Zak se lyk sodat ’n lewenspolis van sowat R3,57 miljoen aan Cecilia Steyn uitbetaal sou word.
Volgens Barnard het Le Roux Jackson verwurg en toe verbrand. Marinda het die volgende dag die verkoolde lyk gaan uitken as dié van Zak en gesê sy is sy suster. Barnard is skuldig bevind aan moord, bedrog, regsverydeling en die versuim om die ligging van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie aan te meld.
Marinda, Le Roux, Cecilia en Zak is volgens die staat ook verbind met die moord.
) Die moord op Glen McGregor, 27 Januarie 2016
Dié rekeningkundige van Randfontein is in Januarie op sy kleinhoewe in die maag geskiet en in sy swembad gegooi.
Voorheen is in die hof getuig dat Marinda glo voor die moord vir McGregor by sy kantoor in Krugersdorp gaan sien het in verband met haar belasting.
Barnard het skuld beken op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. R6 000 van McGregor se geld is ook oorgeplaas na Marinda se rekening. Die staat beweer Marinda, ­Cecilia, Marcel en Le Roux word verbind met die moord.
Krugersdorp-afspraakmoorde tussen 10 en 31 Mei 2016:
1. Anthony Scholefield (64), 10 Mei 2016
Scholefield, ’n versekerings­makelaar, moes ’n kliënt om 18:00 by die Key West-winkelsentrum in Krugersdorp ontmoet.
Hy is nooit weer lewend gesien nie. Volgens Barnard se getuienis het hy, Marinda, Cecilia, Le Roux en Marcel beplan om Scholefield te vermoor. Scholefield is verwurg en vasgebind in sy motor se bagasiebak in Premierstraat gevind. Sowat R16 000 is uit Scholefield se rekeninge onttrek.
Luidens getuienis Woensdag is Scholefield in die Cosanna-woonstel vermoor. Barnard is skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede.
2. Kevin Mc Alpine (29), 26 Mei 2016
Mc Alpine, ook ’n versekeringsmakelaar, is na bewering na die Key West-winkelsentrum gelok. Hy is verwurg en vasgebind en later in die bagasiebak van sy motor gevind. Geld en besittings is van Mc Alpine gesteel. Hy is ook in die Cosanna-woonstelle vermoor, volgens die staat.
Barnard is in verband met moord en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.
Marinda, Cecilia, Marcel en Le Roux word met die moord verbind.
3. Hanlé Lategan, 31 Mei 2016.
Die 52-jarige Lategan, ’n eiendomsagent, moes ’n huis in Rant-en-Dal aan ’n Kaapse paartjie wys. Sy het nooit opgedaag nie, en is laas op kringtelevisiebeeldmateriaal van die Krugersdorp Private Hospitaal gesien waar sy weggestap het saam met ’n vrou.
Lategan se lyk is naby ’n stroompie in Randfontein gevind.
R3 000 is uit Lategan se rekening onttrek.
Barnard is skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede.

Rapport – 18 Desember 2016

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s