‘Hoekom is my dogter 55 keer gesteek?’

Deur Chanté Daries

Euodia Koekemoer, ’n gebroke ma van Randburg, verstik in die hoekoms, veral één: Hoekom is haar dogter 55 keer gesteek as haar skoonseun hom net teen haar dogter wou “verdedig”?
Daar is nog: Hoekom ontwyk geregtigheid haar nog bykans drie jaar later? Hoekom kom die saak nie klaar nie?
Landia Coetzee (24), Koekemoer se dogter, is op 23 Maart 2014 deur haar man, Jon Jon ­Groenewald (42), in hul huis in Kyalami Hills naby Midrand in Gauteng doodgesteek.
Dit het voor die egpaar se driejarige dogtertjie gebeur.
Groenewald staan tereg weens die moord, maar herhaaldelike uitstel in die hof verlam die saak.
Dan is ’n patoloog nie gereed nie; dan verander die prokureurs . . .
Die verrigtinge is Vrydagoggend wéér uitgestel toe dr. Gabisile ­Phala, die patoloog, nie die nodige foto’s aan die hof beskikbaar gestel het nie.
Luide stemme van ongeloof het in die hofsaal opgeklink toe landdros Renier Boshoff weer die verhoor tot Januarie uitgestel het.
Groenewald het ’n klein glimlag gegee en vinnig uit die landdroshof in Alexandra gestap.
“Dit is alles net om vir tyd te speel. Ek kan nie glo die patoloog is weer nie gereed nie,” sê Koekemoer.
Sy sê sy is eers twee weke ná die voorval in kennis gestel dat haar kind dood is.
“Ek onthou die dag soos gister. Ek het ’n oproep ontvang van Jon Jon se pa en hy het vir my gesê hy is jammer, Landi is dood. Die lewe rondom my het net swart geword toe ek die woord ‘dood’ hoor,” sê Koekemoer.
Met ’n bewende hand skud sy as van ’n sigaret.
In Phala se verslag is aangedui Landia is 55 keer met ’n skerp voorwerp gesteek. Sy het verstik aan meer as twee liter bloed wat in haar longe opgebou het.
Die lykskouing het ook gewys Landia was ondervoed.
“My kind het nie verdien om so dood te gaan nie. As sy van natuurlike oorsake doodgegaan het, kon ek dit nog verstaan, maar ek kan nie hierdie verstaan nie. Hoe kan ’n ma aangaan as sy weet haar kind is vermoor?”
Volgens Groenewald se verklaring het hy homself teen Landia verdedig.
Groenewald het ook gesê Landia het hom bedwelm deur “ ’n wit poeier in sy drankie te gooi”.
Landia het uitgestrek in ’n hoek van die huis gelê langs stukke glas en ’n bebloede skêr. ’n Swart tas het langs haar lyk gestaan. Aan haar blou nek was steekwonde.
Volgens Jon Jon se verklaring het hy nie bedoel om vir Landia te vermoor nie.
“Hoekom het hy haar dan 55 keer gesteek? Hoe kan iemand ’n ander mens 55 keer steek?” sê ’n huilende Koekemoer.
In Koekemoer se sitkamer in Randburg staan ’n houtboksie met Landia se as.
“Daar is sy nou. Sy is nou veilig. Ek wens sy het net gepraat en gesê iets is nie reg nie.
“Sy moes net sê sy wil huis toe kom,” sê Koekemoer terwyl sy haar gesig in haar hande vashou en ruk soos sy huil.
) Die verhoor is tot 26 Januarie volgende jaar uitgestel.

Rapport – 30 Oktober 2016

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s