Sy soek liefde, maar kry ’n koeël

Deur Chanté Daries

Dit sal nie seer wees nie,’ sê Bets se maat – en toe trek hy die sneller

Bets Ottë (76) het gedink ’n hoekie vir eensames sou haar lewe verander.
Twee jaar later het Roelof Joubert (84), wat sy daardeur ontmoet het, na bewering ’n pistool teen haar kop gehou, gesê: “Dit gaan nie seer wees nie”, en die sneller getrek.
Hy moet weer Woensdag in die landdroshof in Mbombela (Nelspruit) verskyn.
Die twee het mekaar deur Huisgenoot Pasmaats ontmoet. Hy het na ’n maat vir die res van sy lewe gesoek, sy het vir die grap ingeskryf. “Ek en Roelof het ’n maand lank gepraat en ek het vir hom gesê dit is my hartsbegeerte om Laeveld toe te trek. Roelof het toe gesê ek kan by hom kom bly,” vertel Ottë, wat al twee keer getroud was.
Toe trek sy in Februarie 2014 sak en pak van Newcastle na Mbombela en gaan woon by Joubert.
Dit het aanvanklik goed gegaan – totdat sy laat blyk het sy wil uittrek.
Ottë sê hulle het ’n ooreenkoms gehad dat sy die huis sou versorg en hy die verblyf sou verskaf.
“Ek het ingetrek by ­Roelof, want ek het gedink daar is ’n kans vir ’n verhouding. Maar ná ’n maand het ek besef ons pas net nie by mekaar nie.”
Volgens Ottë het sy nuwe meubels gekoop en ook blindings van R30 000 in die huis laat aanbring.
“Ek het daarvoor betaal en ek het sy plek mooi gemaak. Hy het toe kwaad geraak dat ek die goed weer oppak.
“Dit is toe dat hy vir my sê hy gaan my vrek skiet. Ek het toe op 16 Februarie ’n interdik teen hom gekry.”
Ottë sê sy het die middag van 5 Maart by die stoof gestaan en kos kook toe Joubert haar probeer skiet.
“Ek loop nog om die stoof en toe sien ek hier staan Roelof met ’n silwer pistool in die hand, die pistool wys na my kop, hy sê nog vir my dit gaan nie seer wees nie.
“Die Vader het my beskerm op daardie oomblik. Ek sien net hoe die Heilige Gees in die kombuis gekom het en my kop eenkant gedruk het. Toe ná dit het ek net gesien hier spuit die bloed uit my skouer soos ’n fontein.
“Dit is toe dat ek gehardloop het, want daar was ’n stemmetjie wat dit heeltyd vir my gesê het.”
Ottë het na die bure gehardloop.
Joubert het glo agterna gekom en nog op haar geskiet. “Ek vlieg daar in by die bure waar daar nog skote afgegaan het. “Die arme buurvrou het nog haar knie weer seergemaak in die hele affêre. Ek en sy moes saam in die ambulans lê toe hulle ons kom haal het.”
Ottë se weergawe is ’n leuen, sê Joubert se vriendin, wat anoniem wil bly en namens hom gepraat het omdat hy erg doof is.
“Bets het vir Roelof uitgebuit. Sy het nooit kos gemaak nie, nooit vir die huis gesorg nie en sy het ook nooit blindings of meubels gekoop nie. Inteendeel. Sy het sy meubels probeer vat.
“Sy het sy lewe hel gemaak vir daardie twee jaar. Sy het hom gedryf tot daardie punt en hy berou dit nou.”
Volgens die vriendin het Joubert lank probeer om Ottë uit die huis te kry.
“Hy het gedink dit gaan ’n verhouding word, maar toe sien hy Bets wil niks met hom te doen hê nie. Hy het gesoek vir ’n lewensmaat om hom geselskap te hou en hy het gedink Bets is daardie vrou,” sê die ontstelde vrou.
Oor die skietery sê sy hy was so woedend dat hy nie behoorlik kon dink nie. Hy wou haar net skrikmaak.

Rapport – 10 Julie 2016

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s