Sy soete woorde toe alles leuens

Deur Chanté Daries en Hendrik Hancke

‘Ridder’ se R400 m. kom net nie los nie, maar dit ‘koop’ mooi drome

‘Hy het belowe dat hy my mooi sal maak: ’n tummy tuck, ’n boob job en ’n face lift  . . . maar nou is my spaargeld klaar en Johan Steenkamp is skoonveld.”
So sê Anita Venter (60) van Pretoria, wat beweer haar ridder op ’n wit perd was toe al die tyd ’n glyjakkals op ’n muil.
“Ek het hom verlede jaar by Sun City ontmoet waar hy hom as ’n doktor voorgestel het. Hy het my voete onder my uitgeslaan,” het Venter hierdie week aan Rapport vertel.
Steenkamp se praatjies het haar so beïndruk dat sy huis toe is om haar man te vertel hul ­huwelik van 39 jaar is verby.
Steenkamp “het al die goed ­gesê wat ’n vrou wil hoor”.
Volgens Venter het hulle in ’n koerant gesien van ’n plaas, Bergsig in Bela-Bela, wat te koop is en hulle het soontoe gery.
“Ons het drie weke soos konings gelewe,” sê Venter. Sy het gesien hoe Steenkamp die dokumente onderteken om die plaas te koop.
“Hy het nie geld gehad nie maar het my vertel hy is R400 miljoen sterk. Hy het die eienaar verseker dat sy miljoene enige dag sou loskom en dat hy dan die oordrag sou doen.”
Drie weke lank het Venter vir alles betaal al het die beloofde miljoene steeds nie hul verskyning gemaak nie.
“Ons het een aand gaan uiteet en toe ons terug by Bergsig kom, was alles gesluit. Die eienaar het opdrag gegee om ons slegs daar toe te laat as ons die rekening vir die drie weke betaal het.”
Hulle het toe maar die aand by die Carousel-casino oornag.
“Al ons bagasie, my grimering, klere en selfs Johan se identiteitsdokument het agtergebly. Johan het my gepaai en gesê ons sal ­alles vervang.”
Die smoorverliefde Venter en haar “skatryk ridder” is die volgende dag terug Pretoria toe.
“Ek wou altyd hê hy moet meer glimlag, hy het so ’n mooi smile, al het hy nie ondertande nie.”
Intussen moes sy net wag, want die Steenkamp-miljoene sou teen Desember beskikbaar wees. Ná vier maande aan sy sy was Venter se spaargeld van R50 000 uitgeput en die verhouding was ook nie meer so rooskleurig nie.
“Ons het elke dag soos kat en hond baklei. Ek was soos ’n tier op hom,” sê Venter, veral toe sy agterkom hy kommunikeer met ander vroue.
Tog is Venter saam met Steenkamp Hartbeespoort toe waar hy R45 000 geleen het vir huurgeld en ’n deposito op ’n luukse huis. Maar sy kon sien alles is nie pluis nie.
“Ons het in hierdie pragtige huis gebly, maar het nie geld vir kos gehad nie,” vertel Venter.
In Februarie het sy die verhouding beëindig en uitgetrek.
Volgens André Niemann, ’n private speurder, is Steenkamp tans glo in Lobatse in Botswana, waar hy na bewering onder ’n ander naam vir ’n bekende maatskappy werk.
Teen druktyd kon Rapport ná vele probeerslae nie daarin slaag om Steenkamp te bereik nie.

Rapport – 27 November 2016

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s