Wie betaal vir die gelag? Jý!

Dis toe nie jou verbeelding nie – pryse in supermarkte styg letterlik oornag.
Rapport het net twee weke gelede ’n mandjie produkte by twee supermarkte gaan koop en presies dieselfde taak die afgelope week herhaal.
’n Bruinbrood het in die eerste mandjie nog R8,46 gekos, maar die afgelope week was dit R9,89. Dit is ’n prysstyging van 16,9% in net twee weke.
Melk se prys het presies dieselfde gebly in die twee supermarkte, maar ’n sakkie uie van 1 kg sou jou oë laat rek het as jy die pryse mooi vergelyk het. Die styging was meer as 14%.
Die prys van ’n sak aartappels van 2 kg was in die eerste mandjie R24,99 en die volgende week het dit gestyg tot R27,99. Dit is ’n styging van 12%.
Rys (2 kg) het in dié kort tydperk met 6% gestyg (van R24,49 tot R25,99).
Die enigste goeie nuus was te vinde op die vleisrakke. ’n Heel hoender se prys het van R55,80 gedaal tot R50,75. ’n Pakkie maalvleis was ook heelwat goedkoper (van R53,27 tot R48,31).
Ekonome waarsku nou al weke lank dat die droogte en die swakker rand tot skerp voedselprysstygings gaan lei.
Aartappels is een van die produkte wat vinnig duur geword het.
Hanrie Greebe, woordvoerder van Aartappels SA, sê hulle verwag ’n kleiner oes in 2016 en die pryse is daarom hoër.
“Daar was ’n laer opbrengs in gebiede soos Gauteng, Mpumalanga, die Suidwes-Vrystaat en ook in Noordwes.
“Die styging is grootliks as gevolg van lae aartappelvoorrade op die mark en dit is weens die uitwerking van die droogte en hitte op die totale aartappeloes,” sê Greebe.
Uie is nog ’n produk waarvoor verbruikers nou ’n premie betaal.
Rossouw Cillié, ’n uieboer in die Ceres-distrik in die Wes-Kaap, sê boere moes minder uie plant weens ’n watertekort.
“Ons het 10% minder geplant weens die droogte. Daar is te min uie en ons moet dit vir meer verkoop om ons koste te dek.”
Maar dit wil voorkom of daar ook rolspelers in die waardeketting is wat skep terwyl die slegte nuus op verbruikers reën.
Tamaties SA se nasionale markpryse wys die afgelope week produsente het sowat R6,41 per kg vir tamaties gekry. Die prys in die gewilde supermark waar Rapport gaan inkopies doen het, was R29,99/kg.
Ina Wilken van die Suid-Afrikaanse Verbruikersunie sê dit is kommerwekkend dat pryse so vinnig so skerp styg.
“Die droogte speel wel ’n belangrike rol, maar verbruikers moet rondkyk om seker te maak hulle kry waarde vir hul geld.”
Thabi Nkosi, senior ekonoom by Agri SA, sê sekere produkte in supermarkte word gesubsidieer deur prysverhogings in ander produkte.
Daarom sal die prys van byvoorbeeld waspoeier onverklaarbaar styg sodat groentepryse in toom gehou kan word.
Maar ondanks die kuns (of truuks) in die kleinhandelbedryf om pryse op die regte vlak vas te stel, bly die tendens hoër pryse vir verbruikers, sê Nkosi.
“Op die lange duur gaan die wisselkoers produkte duurder maak.
“Wanneer ons meer kos begin invoer, sal die sterker dollar ons ekonomie en ons verbruikers knou.”

Rapport – 7 Februarie 2016

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s