‘Geeneen verdien so ’n dood nie’

Deur: Chanté Daries

Dereleen James het die man wie se lewe sy op 18 Maart probeer red het nie eens geken nie.

Net sy naam: Clayton.

Maar sy het oor hom gaan staan soos ’n engel toe ’n woedende skare van Eldoradopark, suid van Johannesburg, hom aangerand het.

Hy is daar onder haar dood.

Clayton was een van vier vermeende dwelmgebruikers wat in verband met ’n vroeëre moord ondervra en vrygelaat is.

Die gemeenskap wou ’n woonstel aan die brand steek waarin een van die verdagtes was.

Dereleen het die man gaan haal, in haar motor gelaai en na ’n veilige plek geneem.

Toe hoor sy van die aanval op Clayton. Toe sy daar aankom, was die mense reeds besig om hom aan te rand.

Dereleen (40), wat ook ’n kind het wat aan dwelms verslaaf was, het nie omgegee wie hy was nie.

Dit was asof sy haar eie kind daar sien lê, sê Dereleen terwyl sy die trane afvee.

“In daardie oomblik was ek nie bang nie. Ek dink die Here het vir my die krag gegee om nie bang te wees nie. Ek het net een gedagte gehad en dit was om te beskerm,” sê sy. Sy glo niemand verdien om só doodgemaak te word nie.

“Ek sal dit nooit vergeet hoe die water langs sy mond afgeloop het toe ek vir hom probeer water gee het nie.

“Daardie lewelose staar in sy oë. Dit was amper asof die lewe in ’n paar sekondes net verdwyn het.

“Mense het net daar gestaan met hulle selfone en niks gedoen nie,” vertel Dereleen.

Selfoonvideo’s van Dereleen wat haar alleen teen ’n hele woedende skare verset, is wyd in sosiale media versprei.

Hulle het Clayton se lewelose liggaam onder haar uitgeruk en ’n Pikitup-vullisdrom nader gesleep om hom daarin te gooi.

“Die skare het hom op die teer, op sy knieë gesleep, asof hy nie ’n mens is nie. Ek gaan daardie beelde met my dra vir die res van my lewe,” sê Dereleen.

’n Week later het sy in trane wakker geskrik nadat sy ’n Pikitup-vullisdrom se wiele op die teer gehoor het.

“Dit was die tipe huil wat uit jou siel kom. Dit druk jou binneste tot die punt wat dit seermaak en jy kan nie ophou nie. Jy kan nie die trane stop nie,” sê Dereleen.

Dié enkelma, wat haar hele lewe lank in Eldoradopark woon, voer ’n stryd teen dwelms sedert haar seun, Kaelan (21), as 14-jarige aan tik verslaaf geraak het.

“Dit gaan vreemd klink, maar dit was die beste ding wat met my gebeur het.

“Ek glo die Here het die geleentheid gebruik om vir my te wys wat my passie en my doel in die lewe is.”

Dit was ’n moeilike paar jaar vir Dereleen met ’n gebroke huwelik, ’n verslaafde seun en ’n gebroke huis.

Maar sy sê sy veg vir al die kinders in Eldoradopark.

“Baie kere wou ek net opgee. Alles het net verkeerd geloop. My kind het goed van my gesteel.

“Ek moes met ’n mes onder my kussing slaap.

“Hy is rehab in en uit maar niks het gehelp nie. Ek was moedeloos en alleen.

“Ek het lenings aangegaan as ek nie geld gehad het nie, ek het nie geslaap nie en ek was net nie meer lus om te ­lewe nie,” sê Dereleen, asof sy self ’n verslaafde was.

“Ek was nie verslaaf aan dwelms nie, maar ek het ’n ander soort addict geword.”

Maar vier jaar gelde het sy program Sharing Without Shame vir dwelmverslaafdes begin.

“Ons kinders is op dwelms en daar is niks wat ons regtig kan doen nie. Daar is geen geleenthede en geen geld nie.

“Dit gaan nie net oor my kind nie. Dit gaan oor die duisende ander kinders wat hulp nodig het. In ons gemeenskap is ander kinders jou kinders ook.”

Rapport – 2 April 2017

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s